Pegasus se eerste vlug
Toe Pegasus nog baie klein was het sy ma hom eendag op haar rug gesit en opgevlieg na die hoë wolke.
“Hou goed vas” het sy gesê “jy kan nog nie vlieg nie!”
Bo in die wolke het Pegasus met ’n paar vriende gebaljaar tot sy pê uit was. Hy wou nog een laaste sprong maak en ewe skielik is daar geen wolk meer onder sy hoewe nie.
So groot het hy geskrik dat hy heeltemal van sy vlerkies vergeet het. Kop onderste bo tuimel hy aarde toe. Toe dit al amper te laat is onthou hy uiteindelik sy vlerke en verwoed fladder hy tot hy uiteindelik met ’n kerplaks naby ’n groot hond op die aarde land.
“Haai” sê die hond “en wie is jy?”
“Ek is Pegasus, waar is my mammie?”
“Dit weet ek nie,” antwoord die hond “maar jy kan ’n rukkie by my bly tot sy jou kom haal. My naam is Ietermagog.”
In die tussentyd het Pagasus se ma bekommerd geraak en hom begin soek. Dit was al skemer toe sy hom uiteindelik in die hondehok kry. Tussen die pote van die hond was hy vas aan die slaap.
Die vriendelike hond het albei nooit vergeet nie.